Svalbard | |
---|---|
Die ligging van Svalbard in Europa | |
Geografie
| |
Ligging | Noordelike Atlantiese Oseaan |
Koördinate | 78°54′N 18°01′O / 78.900°N 18.017°O |
Argipel | Svalbard
|
Oppervlakte | 61 022 vk km |
Hoogste punt | Newtontoppen 1 713 m |
Administrasie | |
Noorweë | |
Provinsie | Svalbard |
Sysselmann van Svalbard | Kjerstin Askholt
|
Hoofstad | Longyearbyen |
Grootste stad | Longyearbyen (2 932 (2011)[1])
|
Demografie | |
Bevolking | 2 932
|
Bevolkingsgroepe | 72% Noorweegs 16% Russies/Oekraïens 12% Ander |
.sj is toegeken as Internet-topvlakdomein maar word nie gebruik nie[2] |
Svalbard is ’n argipel in die Noordpoolstreek wat die mees noordelike deel van Noorweë vorm. Dit lê ongeveer 650 km noord van die Europese vasteland, halfpad tussen Noorweë op die vasteland en die Noordpool. Die eilandgroep lê tussen 74° en 81° noord (binne die Arktiese Sirkel) en 10° en 35° oos. Spitsbergen is die grootste eiland, gevolg deur Nordaustlandet en Edgeøya. Die administratiewe sentrum is Longyearbyen en ander nedersettings sluit die Russiese myngemeenskap van Barentsburg, die navorsingsgemeenskap by Ny-Ålesund en Sveagruva, ’n mynbuitepos, in. Die argipel is onder die administrasie van die Goewerneur van Svalbard.
Die eilande is die eerste keer as ’n walvisjagbasis in die 17de en 18de eeue gebruik, maar is daarna weer verlaat. Aan die begin van die 20ste eeu is begin met die ontginning van steenkool en verskeie permanente gemeenskappe is daar gevestig. Die Spitsbergenverdrag van 1920 erken Noorweegse soewereiniteit en die Svalbard-wet van 1925 het Svalbard ’n regmatige deel van die Koninkryk van Noorweë gemaak. Hierdie wet het ook verseker dat Svalbard ’n vrye ekonomiese en gedemilitariseerde gebied is. Die Noorweegse Store Norske en die Russiese Arktikugol is die enigste mynmaatskappye wat op die eilande werksaam is. Navorsing en toerisme het belangrike aanvullende industrieë geword. Twee groot navorsingsfasiliteite is die Universiteitsentrum in Svalbard en die Svalbard Wêreldsaadkelder. Daar is geen paaie tussen nedersettings nie en daar word van sneeumobiele, vliegtuie en bote gebruik gemaak. Svalbard Lughawe, Longyear dien as die poort na Europa.
Die argipel het ’n Arktiese klimaat maar het heelwat hoër temperature as ander areas wat op dieselfde breedtegraad lê. Die flora trek voordeel uit die lang middernagson om op te maak vir die poolnag. Svalbard is die broeiplek vir baie seevoëls en daar is ook ysbere, rendiere en seesoogdiere. Twee derdes van die argipel word ingeneem deur sewe nasionale parke en 23 natuurreservate, wat die grootliks onaangeraakte dog brose omgewing beskerm. Sestig persent van die argipel is gletser en daar is baie berge en fjords.